Laat Sak Die Hare

Laat sak die hare en lag jouself ‘n paar kilogram ligter.

Soms voel ‘n vrou so uitgedeel – hier ‘n stukkie en daar ‘n rukkie – dat ‘n kans om weg te kom en net te wéés nie ‘n luukse is nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Daar is min dinge so terapeuties vir vroue van alle ouderdomme as time out van roetine, huishoudelike verpligtinge en verantwoordelikhede. Voeg hierby die kuier met hartsvroue, die bak in Eva-energie, die vasknoop van ou vriendskapsbande en nuwe mense ontmoet, die pragtige natuurskoon, sielskos en skater uit die maag en dan het jy ‘n wenresep vir vrouevreugde en woema.

As pretprater gooi ek by funksies landswyd shows van ‘n uur lank. My onderrighart het egter begin smag na langer en meer sessies om die wen-wenke dieper te saai. Daar moet ook kans wees vir elke vrou om stil te word en uit te sorteer wat vir haar werklik belangrik is. Ek wou ook graag hoor wat ander vrouens te sê het. Hul stories maak my emosionele tenkie vol.

Toe begin ek in 2016 om jaarliks ‘n Sappige Wegbreeknaweek in die stylvolle kliphuise van Milkwood in die Wortelgat Retreat anderkant Stanford langs die strandmeer aan te bied. Dit is gerieflik naby Sandbaai Hermanus waar ek deesdae woon. Die seën hang dik daar. Die netjiese en goed-toegeruste akkommodasie, tesame met etes wat jy nie self hoef voor te berei nie, laat ‘n mens diep bederf voel.

Daar is altyd aansteeklike opgewondenheid en lighartigheid onder die vrouens soos kinders tydens ‘n langverwagte  vakansie. Die pretfaktor en heilige lag help ons om nie die menslike kondisie te ernstig op te neem nie. Die uitstappies na Stanford se snuffelwinkels en die omgewing se heerlike kuierplekke maak die Saterdagmiddag se vrye tyd iets om na uit te sien. Party wil net rus en slaap inhaal.  

Met ons April-kamp vanjaar het ons Sondagoggend onder die bekwame leiding van  Johannes de Villiers, skrywer van Kalmte  in die malle gejaag, ‘n buitelug-mindfulness-sessie beleef. Uiteindelik is dit die unieke prentjie wat my sal bybly: ‘n kring pragtige vrouens toegewikkel in sweetpakke, pajamas en kamerjasse wat aandagtig sit en luister na die dagbreekgeluidjies.

Ek sluit af met die kommentaar van een sappige vrou wat dié wegbreeknaweke vir my opsom:

Ek het weer besef dat dit héérlik is om vrou te wees!

Kliphuisies by wegbreeknaweek Natuurskoon by Stanford Vrouens kuier saam op wegbreeknaweek Vrouens kuier saam op wegbreeknaweek

Volgende

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *