Sy is gebore in Kaapstad en die Kok-gesin het vanaf haar sesde jaar vir 10 jaar in Port Elizabeth gewoon waar sy by die Hoërskool Andrew Rabie haar eerste liefde en latere man Stephan ontmoet het. Sy was net vir haar matriekjaar in die Hoërskool D F Malan in Bellville. Daarna het sy aan die Universiteit van Stellenbosch Drama en Sekondêre onderwys studeer. Haar enigste onderwyspos was by die destydse Tygerberg Hoër Handelskool waar sy haar hartsvak Afrikaans-moedertaal onderrig het. Sy was aktief in amateurteaterkringe en was die regisseur van volwasse toneelproduksies. Een het die landswye ATKV-toneelkompetisie gewen. Haar top skoolproduksie was in 1976 ‘The King and I’ met 135 leerders en onderwysers.

Sy en Stephan is in 1977 getroud en hy het aangesluit by die Suid-Afrikakanse Diens van Buitelandse Sake. Sy het hom vergesel vir amper twee dekades na Londen, New York, Windhoek en Washington DC. Hul drie kinders is tydens hierdie jare gebore. Met tuisfases terug in Suid-Afrika het sy vele beroepe beklee o.a. dié van eiendomsagent en verfkontrakteur (Die Verfvrou) in Pretoria met 18 mans wat in haar spanne geverf het. Na Stephan se uittrede van Buitelandse Sake, het die gesin in die Boland hervestig. Sy was ‘n skakelbeampte aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy smiddae ‘n nagraadse diploma in Suggesto-pedagogiek verwerf het en oor drie jaar meer as 200 besoekende buitelandse dosente en studente Basiese Afrikaans onderrig het.

Die vele uitnodigings om op te tree voor gehore het haar laat besef wat haar eintlike roeping is. Sy is sedert 1999 voltyds ‘n pretprater, motiveringskonsultant en opleier. Sy tree dikwels op as seremoniemeester en geleentheidspreker. Sy bied prettige naweekkampe aan om haar wenwenke rustiger en in meer diepte te ontgin saam met groepe belangstellendes. Haar trefwydte is van die korporatiewe wêreld tot vrouens, tieners en egpare. Haar Triomfantelike Tienerkursus is sedert 2014 al by aan meer as 18000 hoërskoolleerders aangebied.

Sy was vir twee jaar die voorsitter van die S A Raad vir Sakevroue in die Boland.

Sy is die dogter van ‘n skrywersma en volg graag in haar voetspore. Daar het al ses boeke uit haar pen verskyn. Haar topverkoper-tienerboek ‘Is jy cool of common?’ is steeds gewild onder jong tieners. Haar boek ‘So Sappig’ beleef tans die derde drukoplaag. Sy het ook ‘n DVD en CD’s beskikbaar by haar optredes.

In 2002 het sy ‘n informele vriendskapsklub vir vroue, naamlik die Sappige Vriendinne van die Wes-Kaap gestig. Sy reël jaarliks sprankelgeleenthede waartydens sy, ander sprekers en kunstenaars optree vir kuierkans, pitkos en lag. By elke funksie skenk die gehoor ‘n bydrae tot ‘n verdienstelike projek of organisasie. Meer as R260 000 is tot hede ingesamel.

Op ‘n persoonlike noot: sy en Stephan is 42 jaar getroud. Hulle woon die afgelope vier jaar in Sandbaai Hermanus waar hulle al van die tagtigerjare ‘n familiestrandhuis het. Hulle volwasse kinders en uitgebreide familie kom gereeld kuier. Stephan en Elsabe geniet dit om saam deur die land en Namibië te reis en nuwe mense te leer ken.